Τετάρτη 27 Δεκεμβρίου 2017

Kersboodskap van ons Patriarg 2017

 

 

THEODOROS II
DEUR DIE GENADE VAN GOD POUS EN PATRIARG VAN ALEXANDRIË
EN DIE HELE AFRIKA;
AAN DIE VOLHEID VAN ONS APOSTOLIESE EN PATRIARGALE TROON:
GENADE EN BARMHARTIGHEID EN VREDE VAN ONS HERE EN GOD EN HEILAND JESUS CHRISTUS WAT IN BETHLEHEM GEBORE IS

“Vandag word Christus in die stad Bethlehem gebore, die hemele is bly en die hele skepping verheug hom!”

My liewe broers en susters, my kinders,
Vandag is dit die Fees van die Geboorte van Christus! Die hemelse en engele-gesange word weer gehoor. “Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde en in die mense ‘n welbehae.” Kerkklokke weerklink weereens oor die ganse planeet en kondig aan:
” ‘n Redder is vandag vir ons gebore.”
Ons vier almal, elkeen op sy eie manier, God se groot selfvernedering vir die verlossing van die mensdom. Sy liefde sal ons weereens in die praktyk leer wat die boodskappe daarvan is. ‘n God van liefde en ‘n God van nederigheid.
“Hy wat niks kan omvat nie” word vlees, om krag en moed te gee aan die swak en teleurgestelde mensdom. Die ewige Here word gebore om die wêreld uit sy doodloopstraat te neem. ‘n Wêreld wat tot dusver skynbaar nóg die Engele-lied  nóg die boodskap van “vrede vanuit die hemele” gehoor het. Ons word daagliks met oorloë, wêreldwye en burgerlike konflik,  burgeroorlog, terrorisme, vlugtelinge, ontworteling gekonfronteer.
God reageer op ons: Hy word in nederigheid gebore, in die krip van ‘n dier. Hy word warm gehou deur die asem van die diere. Hy word in ‘n grot gebore. Dit is waarom niemand Hom herken het nie, niemand Hom verstaan het nie, want niemand wie se oë “na die aarde” gewend was, kon Hom vind nie. Net die herders “wat in die oop veld gebly het”,(Lk. 2:8) onskuldige en nederige siele, het besoek ontvang van die engele en is waardig geag om die eerste te wees om Hóm in ‘n krip te sien lê “wat alle dinge dra” (Hebr. 1:3)
Almal was Hom te wagte! Eeuelank het die Hemel Sy koms beplan. Eeuelank het die bandelose, sondige en patetiese mensegeslag geworstel tussen twyfel en onkunde, hulpeloosheid en ‘n doodloopstraat.
Duisende jare gelede het die Profete vooruitgesien en dit geprofeteer wat ons vandag vier. Filosowe en digters van treurspele het sy koms verkondig.
En die Hemel het geantwoord! En die Seun en Woord van God het gekom, “gebore onder die wet, om die wat onder die wet was los te koop”. (Gal. 4:4-5) Emmanuel is gebore, sodat die mensdom met sy eie oë kon sien Wie God is, Hom aanraak, Hom bespot, Hom ontken, Hom verraai, Hom doodmaak en Hóm aanbid wat op die derde dag opgestaan het.
Die boodskap van die Fees van die Geboorte word aan ons almal gerig, my broers en susters. Nie net vandag nie, maar elke minuut, elke oomblik van ons lewens. Ons moet dit as ‘n reël van geloof ervaar, ‘n beskutte hawe in al die skipbreuke van ons lewens. Die mensdom het dit soos nog nooit tevore nodig nie om mense-harte oop te hou en hulle warm en rein te hou, sodat Jesus daarin gebore mag word. Ons hoef nie na Hom te soek in paleise en weelderige sale nie. ‘n Nederige pondok, soos die wat oral in Afrika te vinde is, is genoeg. Hy soek naarstiglik na warmte en vertroosting. God klop vanaand aan die deur van jou hart. Gaan jy Hom laat wag?
My broers en susters, my geseënde kinders, laat ons ons noëties verplaas na die dele van die Midde-Ooste vol beroeringe, na die buitewyke van Judea, om te kyk na waar, maar veral waarom, Jesus gebore is. Laat ons die grot binnegaan, voor Hom kniel en vir Hom sê: “Christus, die mensdom het nie die deugde van vrede geniet soos wat dit wou nie. Dit lewe in oorloë, wat alle vreugde en vrede dood. Dit lewe in nood en die vrees van ‘n onsekere toekoms. Die wêreld laat ‘n mens dink aan ‘n yslike slagveld, waar elkeen teen sy broers gekant is. Ten spyte van al die samesprekings en vredesbewegings, het dit vir twintig of meer eeue ‘n ‘ontwykende duif’ gebly, ‘n onsekere droom.”
Laat ons dit te bowe kom! Laat ons die hartstogte  tersyde stel wat ons aanhits tot dade van geweld! Laat ons arms van liefde uitstrek en elke mens omhels. Dan sal ons die Geboorte voortdurend ervaar.

Nog baie geseënde jare!
 THEODOROS ll
Pous en Patriarg van Alexandrië en die Hele Afrika


In die Groot Stad Alexandrië
Die Fees van die Geboorte van Christus 2017

https://afrikaansortodoks.wordpress.com/2017/12/25/kersboodskap-van-ons-patriarg-2017/

Δεν υπάρχουν σχόλια:

Δημοσίευση σχολίου